Ons Boere se Trotse Geskiedenis.

 

 

Boere Stories en Staaltjies.

 

Hendrik Schoeman - Die skande Boeregeneraal.

   
Generaal Hendrik Jacobus Schoeman. Gebore 11 Julie 1840 gesterf het 26 Mei 1901.

Dom generaal sorg vir eie ondergang. EEN van die merkwaardigste verhale van die Anglo-Boereoorlog wat nie met heldemoed en dapperheid te make het nie, maar met korrup en domheid en selfsug.

Dit is die verhaal van genl. Hendrik Jacobus Schoeman, wat op 11 Julie 1840 in Pietermaritzburg gebore is en op 26 Mei 1901 op hoogs dramatiese wyse die tydelike met die ewige verwissel het. En dit was nie eens op die slagveld nie. Schoeman, 'n fyn besnede, skraal en aantreklike man, het op 37-jarige ouderdom 'n prominente politieke rol op volksvergadering gespeel.

Toe die Eerste Vryheidsoorlog in 1881 uitgebreek het, het hy as generaal aan 'n klein skermutseling by Pretoria deelgeneem.
In 1885 het hy volksraadslid vir Lichtenburg en lid van die uitvoerende raad geword, maar moes ná slegs vier maande bedank. Hy het besonder rojaal met die toekenning van regering konsessies omgegaan.

Met die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog is hy as bevelvoerder van die Johannesburgse en Pretoriase burgers na Colesberg gestuur om die Britse opmars te stuit.

Daar het hy sy plig so grof versuim dat die krygsraad hom op 26 Februarie 1900 deur genl. H.R. Lemmer vervang het. Schoeman is van sy rang onthef en na Pretoria herroep. Dit was te veel vir sy eergevoel en hy het op 5 Maart 1900 uit die staatsdiens bedank.

Daarna het onvergenoeg op sy plaas, Schoemansrus, naby die latere Hartbeespoortdam, gaan sit.

In Junie, nadat die Britte Johannesburg en Pretoria ingeneem het, het hy die wapen voor die Britte gaan neerlê.

Op 11 Oktober 1900 het hy op versoek van die Britse militêre probeer om genl. Louis Botha en Schalk Burger te velde te oorreed om die wapen ook neer te lê. Die Boere het hom van hoogverraad aangekla. Hy is om tegniese redes onskuldig bevind, maar in die Pietersburge tronk opgesluit. Kmdt. Lodi Krause, wat hom verhoor het, het hom 'n ``deurtrapte skobbejak'' genoem.

Op 8 April 1901 het die Britte onder genl. H.C.O. Plumer Pietersburg ingeneem en Schoeman vrygelaat. Hy het toe na sy huis in Struben straat, Pretoria, teruggekeer.

Christiaan van Veyeren van Graaff-Reinet het ná die oorlog vertel dat Schoeman op Colesberg 'n Britse liddietbom met 'n bars daarin as aandenking van die oorlogsterrein saamgeneem het. Schoeman het die bom oral met hom saamgeneem. In sy huis het dit langs sy gemakstoel gestaan. Wanneer hy sy pyp opgesteek het, het hy die brandende vuurhoutjies altyd by die skeur in die bom wand ingegooi.

Op 26 Mei 1901 het sy sy laaste pyp opgesteek, want toe hy die vuurhoutjie by die skeur ingooi, het die bom hom die lug in geblaas.

Die Boere het gesê dit is die ``oordeel van die Almagtige'', ``want Schoeman het sy mense verraai''.

 

Boereoorlog Stories en Staaltjies.

 

 

Boereoorlog Stories, Staaltjies en Gedigte