Ons Boere se Trotse Geskiedenis.

 

 

Boere Stories en Staaltjies.

 

Die Joiner en die Generaal. Verdien die miskende Piet de Wet wel die eer of bly hy 'n Joiner.

 

Pieter Daniël de Wet.

Christiaan Rudolf en Pieter Daniël de Wet se ouers was jong Voortrekkers wat hulle in die Vrystaat gaan vestig het. Christiaan is in 1854 gebore en Piet in 1861.

Christiaan en Piet het grootgeword op die plaas Nieuwejaarsfontein in die distrik wat later na Christiaan genoem is: Dewetsdorp. Hulle was na aan mekaar: hulle het in 1879 saam buite Heidelberg (Transvaal) geboer en in dieselfde kommando in die Eerste Vryheidsoorlog geveg. Hulle was deel van die glorieryke oorwinning oor die magte van genl. George Colley by Amajuba op 27 Februarie 1881. Na die oorlog is die twee terug Vrystaat toe: Christiaan na 'n plaas buite Heilbron en Piet na die Lindley-distrik. Albei is tot Volksraadslede verkies.

Toe die Tweede Vryheidsoorlog in Oktober 1899 uitbreek, het die twee broers hulle geesdriftig by die Boeremagte aangesluit: Piet as lid van die Lindley-kommando en Christiaan as lid van die Heilbron-kommando. Die twee het saam aan die Slag van Nicholsonsnek deelgeneem en 850 Britse soldate gevange geneem. Die Vrystaatse president, M.T. Steyn, was so beïndruk met Christiaan se leierskap dat hy hom in Desember 1899 as veggeneraal onder genl. P.A. Cronje aangestel het.

Piet het hom ook as 'n formidabele leier en strateeg onderskei, veral gedurende die beleg van Ladismith en die bevryding van Vaalkop op 16 Desember 1899. 'n Paar dae na sy broer se aanstelling het hy ook 'n generaal geword: die hoofkommandant van die suidelike front. Hy was 39.
GEDURENDE die eerste fases van die oorlog het hy groot naam gemaak en verskeie kere operasies saam met die befaamde genl. Koos de la Rey uitgevoer. In Mei 1900 het sy magte byna vyfhonderd man van die Imperial Yeomanry gevange geneem, 'n gevoelige slag vir die Britte. Die twee broers het in Maart en April 1900 saam suksesse by Abrahamskraal, Sannaspost en Dewetsdorp behaal. Christiaan het hom mettertyd op meer onkonvensionele oorlogvoering toegespits en word steeds as een van die vaders van guerrilla-oorlogvoering beskou.

Maar teen die middel van 1900, na kwaai terugslae vir die Boeremagte, het Piet de Wet begin besef die Boeremagte sou nooit teen die Britse oormag met sy moderne wapentuig en logistieke steun kon wen nie.

In Junie het Piet met lord Methuen op 'n skietstilstand van ses dae ooreengekom. Christiaan het dadelik 'n vergadering van sy senior offisiere belę om die ooreenkoms te bespreek. Die twee broers het die eerste keer in die openbaar verskil en op mekaar geskree. Piet het Christiaan daarvan beskuldig dat hy die burgers mislei deur te se hulp uit Europa was op pad. Volgens die weergawe van een van die offisiere, H.G. de Wet, het Piet gesę dit was tyd om die oorlog te staak omdat dit die land sou rus neer en vroue en kinders oneindig sou swaarkry. Christiaan het sy humeur verloor en sy broer gevloek.

VIR Piet was die laaste strooi toe hy en die legendariese Danie Theron op 19 Julie voor die magte van genl. R.G. Broadwood moes vlug. Die volgende dag het hy Christiaan naby Lindley ontmoet en by hom gepleit om vrede te oorweeg. Christiaan se enigste reaksie was om vir hom te skree: "Ben jij gek?"

Op 26 Julie 1900 het Piet hom op Kroonstad aan 'n Britse offisier oorgegee. Die voortsetting van die oorlog was net op emosie en sentiment -- "the curse of my race"-- gegrond, het hy gesę. Toe Christiaan van sy broer se daad hoor, het hy aan genl. C.C.J. Badenhorst gesę: "Had hem liever doodgeschoten."

'n Paar maande later het Piet die Burgersvredeskomitee van die Vrystaat gestig. Getrou aan sy woord dat hy die wapen neergelę het in belang van die gewone burgerlikes van die Vrystaat, het hy herhaaldelik by die Britse bevelvoerders beswaar gaan maak teen die manier waarop die Britte die Boerevroue en -kinders behandel het.

Op 11 Januarie 1901 het Piet 'n ope brief aan sy broer geskryf wat in die Bloemfontein Post geplaas is. Dit is as 'n klein boekie deur die Argus-maatskappy uitgegee -- ek het 'n oorspronklike weergawe daarvan in die Kaapstadse Nasionale Biblioteek raakgeloop. Die titel is Broeder tot Broeder. Een prijzenswaardige Brief. Een smeekstem tot De Wet. De Wet's verantwoordelikheid.

Die brief begin met "Waarde Broeder" en lui onder meer: "Ik heb gehoord dat gij zeer vertoornd op mij zat en dat, indien gij mij vind, gij mij zult dooden. God verhoede dat gij de gelegentheid zoudt hebben nog meer onschuldig bloed te vergieten. Genoeg is alreeds vergoten."

Hy skryf dat hy sy plig teenoor die oorlogspoging gedoen het en nie op 'n onverskillige manier sy wapens neergelę het nie, maar eers nadat hy die president self versoek het om die oorlog te staak en toe sonder om sy manskappe saam te vat. Hy het weer daarop gewys dat die hulp uit Europa wat Christiaan en ander so graag aan hul manskappe beloof het, 'n hersenskim en 'n stuk bedrog was.

"Ik bid u wederom zet al Uw opgezweept gevoel ter zijde en gebruik voor een oogenblik Uw gezond verstand, zij zult dan met mij instemmen dat het beste dat de bevolking van ons land kan doen is in te geven, lojaal te zijn aan het niewe Goevernement, te trachten om verantwoordelijk Goevernement te krijgen -zoodra de finantiele toestand het toelaat -- gelijk aan die Kaapkolonie en Natal, en zodoende het land zelf te regeeren, onze kinderen behoorlik geduceerd te zien en ons volk as volk te redden voor de toekomst van Zuid-Afrika.

"Aan de anderen kant: indien den oorlog een paar maanden langer duurt zal ons volk zoo arm zijn - als een groot gedeelte reeds is - dat het tot werkenden stand van het land zal vervallen en in dat geval als een Natie verdwijnen zal."

IN Junie 1901 het Piet de Wet die hensopper Piet de Wet die joiner geword toe hy en sy vredeskomitee as verkenners en gidse vir die Britte begin optree het. In 1902 het sy organisasie formeel die Orange River Colony Volunteers geword. Piet se mede bevelvoerder was Stephanus Vilonel, ook 'n senior Boere-offisier. Op 11 Januarie 1901 skryf Vilonel aan pres. Steyn: "Ek het die algemene verloop van die oorlog deeglik gevolg en ek het tot op hierdie oomblik niks gesien wat 'n voortsetting van die oorlog regverdig nie."

In Transvaal is die National Scouts met 'n soortgelyke doel gestig. Een van die Scouts se leiers was genl. Andries Cronje, broer van genl. Piet Cronje. Teen die einde van 1902 het Piet en Christiaan mekaar in die Grand Hotel op Kroonstad raakgeloop. Hulle het op mekaar begin skree en as hulle nie vasgehou was nie, sou hulle mekaar met die vuis getakel het. Die joiners is lank nie die einde van die oorlog op 31 Mei 1902 steeds met 'n passie gehaat.

Christiaan de Wet het 'n Bittereinder gebly: hy was een van die leiers van die 1914-Rebellie en is in November daardie jaar gevang. Na net ses maande in die tronk is hy vrygelaat. Hy is op 23 Februarie 1922 dood en is aan die voet van die Vrouemonument in Bloemfontein begrawe. Piet de Wet is sewe jaar later in 'n klein huisie op Lindley dood. Sy boedel was net vyfhonderd pond werd -teenoor Christiaan se boedel van meer as drieduisend pond. Die twee het nooit versoen nie.
PIET de Wet word vandag nog in Afrikanergeledere as 'n verraaier beskou. Min het ooit probeer besin oor die geldigheid van sy argumente soos hy dit laat in 1900 geformuleer het. Dit was inderdaad toe duidelik onmoontlik vir die Boererepublieke om die Britse oorlogmasjien te verslaan. As die Boere toe vrede beding het, sou die Britte nooit hul verskriklike verskroeide-aardebeleid uitgevoer het nie. Afrikaners (en Suid-Afrika) sou nie so verwoes gelaat gewees het nie.

 

Boereoorlog Stories en Staaltjies.

 

 

Boereoorlog Stories, Staaltjies en Gedigte